4 Gaan sê vir Dawid, my kneg: So spreek die Here: Jý mag nie vir My die huis bou om in te woon nie.
5 Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek Israel laat optrek het tot vandag toe nie, maar Ek het gekom van tent tot tent, en van tabernakel tot tabernakel.
6 Oral waar Ek rondgetrek het onder die hele Israel, het Ek ooit ’n woord gespreek met een van die Rigters van Israel wat Ek aangestel het om my volk op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My ’n huis van sederhout nie?
7 So moet jy dan nou aan my kneg Dawid sê: So spreek die Here van die leërskare: Ek self het jou geneem uit die weiveld, agter die skape weg, om ’n vors te wees oor my volk Israel.
8 En Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande uitgeroei voor jou uit; en Ek sal vir jou ’n naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is;
9 en Ek sal vir my volk Israel ’n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer mishandel soos vroeër nie,
10 naamlik van die dae af dat Ek Rigters oor my volk Israel aangestel het; en Ek sal al jou vyande verneder. Daarom gee ek jou te kenne dat die Here vir jou ’n huis sal stig.