2 Verkondig onder die nasies en laat hoor, en steek ’n banier op, laat hoor; verberg dit nie; sê: Babel is ingeneem, Bel staan beskaamd, Meródag is verskrik; sy afgode staan beskaamd, sy drekgode is verskrik.
3 Want ’n volk trek teen hom op uit die Noorde; dit sal sy land ’n woesteny maak, sodat daar geen inwoner in is nie; mense sowel as diere het gevlug, weggetrek.
4 In dié dae en in dié tyd, spreek die Here, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die Here hulle God soek.
5 Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die Here aansluit in ’n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie.
6 ’n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet.
7 Almal wat hulle kry, het hulle opgeëet; en hulle teëstanders het gesê: Ons maak ons nie skuldig nie, omdat hulle gesondig het teen die Here, die Woning van geregtigheid en die Verwagting van hulle vaders, die Here.
8 Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs, en wees soos bokke voor die trop kleinvee uit!