6 ’n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet.
7 Almal wat hulle kry, het hulle opgeëet; en hulle teëstanders het gesê: Ons maak ons nie skuldig nie, omdat hulle gesondig het teen die Here, die Woning van geregtigheid en die Verwagting van hulle vaders, die Here.
8 Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs, en wees soos bokke voor die trop kleinvee uit!
9 Want kyk, Ek verwek en laat teen Babel optrek ’n menigte van groot nasies uit die Noordland; dié sal hulle teen hom opstel — daarvandaan sal hy ingeneem word; hulle pyle sal wees soos dié van ’n voorspoedige held wat nie met leë hande terugkom nie.
10 En Chaldéa sal ’n buit word; almal wat hom beroof, sal versadig word; spreek die Here.
11 Al is julle verheug, al jubel julle, plunderaars van my erfenis, al huppel julle soos ’n vers wat graan dors, en runnik julle soos die hingste —
12 julle moeder staan grootliks beskaamd; sy wat julle gebaar het, is rooi van skaamte. Kyk, sy is die agterste van die nasies, ’n woestyn, ’n dor land en ’n wildernis.