5 “Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie.
6 Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid.
7 Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.
8 En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het.
9 Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie;
10 die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie;
11 die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.