12 Maar dit bring net moeite, die baie roes brand nie van die pot af nie. Die roes aan die pot
13 is jou afstootlike onreinheid. Ek wou jou reinig, maar jy het nie rein geword nie. Jy gaan nou ook nie meer rein word voordat Ek my woede op jou gekoel het nie.
14 Ek, die Here, het gepraat. Dit kom, Ek gaan dit doen. Ek gaan nie maak of Ek niks sien nie, Ek gaan nie verskoon en nie jammer kry nie. Jy gaan gestraf word soos jy verdien, soos jou optrede dit eis,” sê die Here my God.
15 Die woord van die Here het tot my gekom:
16 “Mens, Ek gaan jou vrou wat jou soveel vreugde gee, van jou af wegvat deur 'n skielike dood. Jy mag nie treur en huil nie, nie 'n traan stort nie.
17 Jy moet in stilte sug, jy mag nie rou nie. Hou jou tulband op en jou skoene aan. Moenie jou baard bedek nie en moenie eet wat mense gewoonlik by so 'n geleentheid eet nie.”
18 Ek het die môre nog met die volk gepraat, en die nag het my vrou gesterf. Ek het die volgende oggend gedoen soos ek beveel is.