16 Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende moet môre na die altaar toe kom, jy en hulle en ook Aäron.
17 Elkeen moet wierook in 'n vuurpan sit en dit na die altaar toe bring, elkeen van die twee honderd en vyftig man met sy eie vuurpan, en ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.”
18 Almal het toe hulle vuurpanne gevat, vuur daarin gesit en wierook daarop geplaas, en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron.
19 Net toe Korag die hele gemeente teenoor Moses-hulle by die ingang van die tent van ontmoeting laat saamkom, word die magtige teenwoordigheid van die Here vir die hele gemeente sigbaar.
20 Die Here sê toe vir Moses en Aäron:
21 “Gee pad van hierdie gemeente af, dat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.”
22 Maar Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid: “O God, God wat aan alle mense die lewe gee, sal u toorn teen die hele gemeente ontvlam as net een mens gesondig het?”