1 Die familiehoofde van die mense van Gilead seun van Makir, seun van Manasse uit die Josefstam, het met Moses en die leiers, die familiehoofde van die Israeliete, kom praat
2 en gesê: “Toe die Here u beveel het om die land tussen die Israeliete te verdeel, het die Here u ook opdrag gegee om die grond wat ons stamverwant Selofgad toegekom het, aan sy dogters te gee.
3 As hulle nou met mans uit ander Israelitiese stamme trou, sal hulle grond wegval uit ons familiebesitting en gevoeg word by dié van die stam waaraan hulle dan sal behoort. So sal die grond wat aan ons toegewys is, van ons weggeneem word.
4 As die hersteljaar vir die Israeliete aanbreek, sal die dogters se grond gevoeg word by die stam waaraan hulle dan behoort, en so sal hulle grond van dié van ons families weggeneem word.”
5 Op bevel van die Here het Moses toe die volgende opdrag aan die Israeliete gegee: “Wat die mense van die Josefstam sê, is reg.
6 Die Here het ten opsigte van Selofgad se dogters beveel dat hulle met enigiemand mag trou wat hulle goedvind solank hulle binne die stamverband trou.