23 Want gisternag het daar ’n engel by my kom staan. Dit was ’n engel van God, ek behoort aan daardie God, Hy is die God wat ek dien.
24 Die engel het vir my gesê: ‘Paulus, jy moenie bang wees nie. Jy moet voor die regterstoel van die keiser in Rome gaan staan. God sal ook goed wees vir almal wat saam met jou op die boot is. Hy sal hulle red omdat Hy jou wil red.’
25 Vriende, daarom moet julle nie moedeloos wees nie! Ek glo dat God dit sal doen, ek glo dit sal gebeur soos die engel vir my gesê het.
26 Maar die skip sal stukkend breek by een van die eilande.”
27 Dit was 14 dae nadat die storm begin het. Dit was nag, en die skip het rondgedryf in die Adriatiese See. Dit was in die middel van die nag. Die matrose het gedink die skip kom naby die land.
28 Hulle het gemeet hoe diep dit is. Dit was 20 vaam. Die skip het verder gedryf. Hulle het weer gemeet hoe diep dit is en dit was toe 15 vaam.
29 Hulle was bang dat die skip stukkend sal breek op die rotse. Daarom het hulle vier ankers vasgemaak aan toue en hulle het die ankers afgegooi by die agterkant van die skip. Hulle het gebid dat dit dag moet word.