22 Eli was baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles gedoen het aan al die Israeliete, en ook dat hulle seks gehad het met die vroue wat gewerk het by die deur van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het.
23 Eli het vir sy seuns gesê: “Hoekom doen julle hierdie dinge? Ek hoor dat al hierdie mense sleg praat oor julle.
24 Nee, my seuns, ek hoor wat die volk van die Here oor julle sê, en dit is nie goeie dinge nie.
25 Wanneer ’n mens sonde doen teen ’n ander mens, dan kan die regters oordeel, maar wanneer ’n mens sonde doen teen God, wie moet dan oordeel?”Maar die seuns van Eli het nie geluister na hulle pa nie, want die Here wou hulle laat sterf.
26 Die seun Samuel het grootgeword, en die Here en die mense het gehou van Samuel.
27 ’n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê: “Die Here sê: Ek het vir jou voorvader se familie duidelik gewys wie Ek is. Dit was toe hulle in Egipte by die farao se huis was.
28 Ek het jou voorvader gekies uit al die Israeliete om my priester te wees. Ek het hom gekies om by my altaar te kom om die wierook-offer aan die brand te steek, en om die skouer-kleed te dra. Ek het vir sy familie al die vuur-offers gegee wat die Israeliete gebring het.