9 “In elk geval, vroeër, toe ek nog ’n vyand van Jesus van Nasaret was, het ek my bes gedoen om almal uit te roei wat in Hom geglo het.
10 Ons godsdienstige leiers het toegelaat dat ek Jerusalem se tronke vol maak met hierdie mense. Ek het nie gehuiwer om ja te sê wanneer een van hulle doodgemaak moes word nie.
11 Ek het hulle selfs in die Joodse aanbiddingsplekke gaan uitsnuffel en hulle gedwing om hulle geloof te laat vaar. Later het ek ook begin om hulle in stede ver buite Jerusalem te vervolg.”
12 “Ek was juis op ’n dag op pad na Damaskus met toestemmingsbriewe om Christene daar te gaan vang, toe ’n skerp lig in die middel van die dag skielik op my en my reisgenote begin skyn.
13 Geagte koning, hierdie lig uit die hemel was baie skerper as die son.
14 Ons almal het so groot geskrik dat ons op die grond neergeval het. Ek het ’n stem gehoor wat in Hebreeus vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg? Jy kan nie so aanhou nie. Hou op om jou teen My te verset.’
15 “‘Wie is U, Here?’ het ek gevra.“Die Here het geantwoord: ‘Ek is Jesus. Jy is besig om My te vervolg.