40 Die Samaritane is toe na Jesus toe. Hulle het by Hom aangehou om by hulle te kom oorbly. Jesus het toe twee dae daar by hulle gebly. In die twee dae het Jesus verder met hulle gesels.
41 Die gevolg was dat baie meer van hulle sy vriende geword het.
42 Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nou nie meer net omdat jy ons van Hom kom vertel het nie. Ons het die kans gehad om self na Hom te luister. “Ons twyfel nie meer nie: hierdie man is waarlik die Redder wat sou kom. Hy bring nie net vir ons of die Jode redding nie, maar vir al die mense in die wêreld.”
43 Twee dae later is Jesus Galilea toe.
44 Jesus het goed geweet en het ook vir die mense gesê dat ’n profeet nie gerespekteer word deur die mense onder wie hy grootgeword het nie.
45 Toe Hy egter in Galilea aankom, is Hy met oop arms ontvang. Dit was ook maar net omdat die mense daar al die dinge gesien het wat Jesus by die feestelikhede in Jerusalem gedoen het. Hulle self was ook Jerusalem toe vir die paasfees.
46 Jesus is toe Kana toe. Dit is dieselfde dorpie waar Hy die water in wyn laat verander het. Daar was ’n hoë staatsamptenaar wat in Kapernaum vir die koning gewerk het. Sy seun het intussen baie siek geword.