Johannes 7:16-22 DB

16 Jesus sê toe: “Ek het nie self hierdie dinge opgemaak nie. Wat Ek hierdie mense leer, kom direk van God af. Hy het My gestuur om dit te kom doen.

17 Die mense wat regtig ernstig is om aan God gehoorsaam te wees, sal dadelik hoor dat wat Ek sê van God af kom.

18 Iemand wat sommer net ’n klomp idees uitdink en rondvertel, doen dit mos sodat mense kan sê: ‘O, kyk hoe slim is hy,’ nie waar nie? Dit doen Ek nie. Nee, Ek wil hê dat julle eerder moet raaksien hoe groot God werklik is. Kyk na Hom en nie na My nie. Dit moet mos al genoeg wees om julle van my goeie bedoelings te oortuig, asook daarvan dat Ek die waarheid praat.

19 Het Moses nie vir julle die wet gegee nie? Dit is mos die wil van God. Maar julle steur julle nie daaraan nie. Julle breek die wet elke dag. Nou wil julle My doodmaak omdat Ek kamma die wet gebreek het toe Ek op die sabbat iemand gesond gemaak het. Verbeel jou!”

20 Dit het die mense omgekrap. “Jy is van jou sinne beroof, man!” snou hulle Hom toe. “Wie wil jou nou skielik doodmaak?”

21 Jesus het Hom nie laat afskrik nie. “Ek het een buitengewone ding ’n ruk gelede op die sabbat gedoen. En kyk na julle, julle is nog steeds hier aan die wonder of dit nou reg was of nie. Ek wil julle graag help om dit beter te verstaan.

22 Moses het gesê dat julle julle seuntjies ’n sekere aantal dae na geboorte moet besny. (Eintlik het Moses dit nie begin nie, maar sy voorouers.) Omdat dit Moses is wat dit gesê het, doen julle dit, al moet julle dit ook op die sabbat doen.