6 Joram het geleef soos die meeste konings van Israel voor hom. Hy was net so sleg soos koning Agab, want hy het met een van Agab se dogters getrou. Hy het dinge gedoen wat vir die Here onaanvaarbaar was.
7 Maar die Here het gelukkig nie ’n einde gemaak aan die koningshuis van Dawid nie omdat Hy vir Dawid beloof het dat daar altyd iemand uit sy nageslag op sy troon sou sit.
8 In Joram se tyd het die Edomiete van Juda af weggebreek en hulle eie koning aangestel.
9 Joram het die Edomiete met sy hele leër en al sy strydwaens agternagesit om sy gesag oor hulle te herstel. Die Edomiete het hom en sy strydwaens egter omsingel, maar hy het in die nag in die donker weggekom.
10 Van toe af was die Edomiete onafhanklik van Juda.
11 Joram het selfs in die heuwelland van Juda hoogtes vir afgode gebou en die mense van Juda en Jerusalem verlei om afgode te dien.
12 Die profeet Elia het vir Joram ’n brief geskryf.Hier is vir jou ’n boodskap van die Here, die God van Dawid, jou voorvader. Hy sê: Jy het nie die goeie voorbeeld van jou pa, Josafat, en jou oupa, Asa, gevolg nie.