Amos 5:12-18 DB

12 Ek weet van alles wat julle verkeerd gedoen het. Ek weet van al die baie sondes wat julle doen. Julle vat omkoopgeld. Julle jaag die man weg wat reg is. In die hof kies julle kant teen die arm mense.

13 In hierdie tyd met al sy onregverdige dinge is dit die verstandigste om maar liewer stil te bly.”

14 “Probeer om eerder goed te doen as kwaad. Julle sal dan voorspoedig lewe. Dit sal dan regtig gebeur soos julle gehoop het. Die Here, die God wat baie sterk is, sal by julle bly.

15 Verwerp alles wat lelik is. Slaan julle arms om alles wat goed is en druk dit teen julle vas. Sorg dat die uitsprake in julle hof altyd regverdig is. Miskien sal die Here, die God wat baie sterk is, goed wees vir dié wat nog van Josef se nageslag oorgebly het.”

16 “Omdat dit gebeur het,” sê die Here, die God wat so sterk is, “sal daar gehuil word op die oop plekke in die stad waar die mense bymekaarkom. In die strate daarbuite sal hulle loop en roep: ‘Ai tog, ai tog!’ Hulle sal die boer van sy lande af roep en die mense wat betaal word om op begrafnisse te kom huil sodat hulle ook saam kan kom huil.

17 Ek sal deur julle land gaan om julle te straf. By elke plek waar Ek kom, selfs in die wingerde waar die druiwe groei, sal daar gehuil word,” sê die Here.

18 “Daar wag ’n verskriklike teleurstelling vir die mense wat nie meer kan wag dat die dag van die Here moet kom nie. Wat dink julle gaan op daardie dag met julle gebeur? Daardie dag gaan vir julle nag wees. Vergeet daarvan dat dit vir julle ’n dag gaan wees waarop julle gered sal word.