11 Elke lewende wese het met sy twee boonste vlerke aan die vlerke van die lewende wesens aan weerskante van hom geraak. Die ander twee vlerke was toegevou, en daarmee het die lewende wese homself bedek.
12 In die vier wesens was daar een Gees. Die vier wesens het as ’n eenheid beweeg in die rigting waarin die Gees dit laat gaan het. Nie een van die wesens het van koers afgewyk wanneer die Gees hulle laat beweeg het nie. Die groep het reguit vorentoe beweeg in die rigting wat die Gees gekies het sonder dat hulle ooit omgedraai het.
13 Die wesens het soos ’n witwarm vuur gelyk, met helder vlamme wat tussen hulle beweeg. Die vlamme het opgevlam soos dié van ’n baie warm vuur, of soos weerligstrale wat aanhoudend blits.
14 En die lewende wesens het soos weerligstrale heen en weer geflits.
15 Terwyl ek na die wesens kyk, sien ek vier wiele op die grond onder die wesens. Onder elke wese was ’n wiel wat aan die grond geraak het.
16 Die wiele het geskitter soos duur en kosbare diamante. Hulle was baie mooi. Al vier die wiele het presies dieselfde gelyk. En binne-in elke wiel was nog ’n wiel, dwars gedraai teenoor die ander een.
17 Die wiel binne ’n ander wiel het gemaak dat die wesens daar bo in enige rigting kon beweeg sonder om te draai as hulle beweeg.