Esegiël 1:18-24 DB

18 Die wiele het my beïndruk omdat dit so groot was. Die buitenste raam waaroor die band van die wiel getrek was, was vol oë wat in alle rigtings gekyk het.

19 Elke keer wanneer die wesens gelyktydig begin beweeg, het die wiele onder hulle ook beweeg. Selfs wanneer die wesens van die grond af in die lug opgestyg het, het die wiele ook opgestyg.

20 Die Gees van die vier lewende wesens was ook in die wiele. Waarheen die Gees ook al die wesens laat beweeg het, het die wiele saam beweeg. Die Gees was in beheer van dié vreemde ding waarna ek gekyk het.

21 Elke keer wanneer die wesens beweeg het, het die wiele ook beweeg. En elke keer wanneer die lewende wesens gestop het, het die wiele ook dadelik tot stilstand gekom. Wanneer die lewende wesens in die lug opgestyg en weggevlieg het, het die wiele saam opgestyg en gevlieg. Dit was omdat die Gees van die lewende wesens in die wiele was.

22 Bokant die koppe van die wesens was daar iets wat soos die horison gelyk het, en die lug van die horison het soos kristal geskitter. Dit het gelyk of daar ’n ysberg was, en die son het helder op die wit ys weerkaats. Hier onder het die vier wesens gestaan.

23 Die vier wesens se boonste vlerke het aan mekaar geraak, en hulle onderste vlerke was toegevou. Daarmee het hulle hulle lywe bedek.

24 Wanneer die wesens gevlieg het, het hul vlerke geklap soos die see se golwe wanneer dit teen die rotse breek. Die geraas van die vlerke het my laat dink aan ’n rivier wat in volle vloed afkom. Dit was die Here se stem wat ek gehoor het wanneer die vlerke geklap het. Dit het geklink soos ’n groot klomp mense, ’n hele skare wat gelyktydig praat. Of soos ’n groot groep soldate wat gelyktydig skree en roep. Die Here wat oor alles en almal mag het, het so gepraat. En elke keer wanneer die wesens stil gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak.