6 Elkeen van die wesens het vier gesigte gehad. En elkeen het ook vier vlerke gehad.
7 Hulle bene was so reguit soos ’n mens se bene, maar hulle het nie voete soos ’n mens nie. Hulle voete was kloue soos dié van beeste. Die voete dui op hulle krag: hulle is so sterk soos beeste. Hulle bene het geblink soos geelkoper wat blink gevryf is. Die glans herinner aan dié van weerlig. Behalwe vier gesigte en vier vlerke het elke wese ook vier hande gehad.
8 Onder elke vlerk was daar ’n hand. Vier is die getal wat na die vier windrigtings verwys, en die volgende sê: die Here kan enigiets doen en Hy kan in enige rigting beweeg.
9 Die vlerke van elke wese het aan die vlerke van die twee wesens weerskante van hom geraak, sodat die vlerke ’n vierkant gevorm het. Wanneer hulle beweeg het, was dit as ’n groep sonder dat enigeen sy liggaam gedraai het. Die vier lewende wesens was ’n eenheid.
10 Die vier gesigte wat elke lewende wese gehad het en wat in elke windrigting gewys het, was dié van die sterkste in die diere- en voëlryk. Die gesig aan die voorkant het gelyk soos dié van ’n mens. Die gesig aan die regterkant het weer gelyk soos dié van ’n leeu. Die gesig aan die linkerkant was dié van ’n bul, en die gesig aan die agterkant het gelyk soos dié van ’n arend. Die vier gesigte was tekens van God se magtige teenwoordigheid.
11 Elke lewende wese het met sy twee boonste vlerke aan die vlerke van die lewende wesens aan weerskante van hom geraak. Die ander twee vlerke was toegevou, en daarmee het die lewende wese homself bedek.
12 In die vier wesens was daar een Gees. Die vier wesens het as ’n eenheid beweeg in die rigting waarin die Gees dit laat gaan het. Nie een van die wesens het van koers afgewyk wanneer die Gees hulle laat beweeg het nie. Die groep het reguit vorentoe beweeg in die rigting wat die Gees gekies het sonder dat hulle ooit omgedraai het.