8 En hierdie vyande van jou sal jou doodmaak, sonder om genade te bewys. Jy sal daar in jou huis op die eiland doodgemaak word. Jy bly mos in die middel van die see; daarom het jy gedink jy is veilig. Jy sal van jou baie wonde doodgaan.
9 En sal jy dan nog kan spog dat jy ’n god is? Sal jy vir jou vyande wat jou doodmaak, vertel dat hulle nie met ’n gewone mens te doen het nie, maar met ’n god? Hulle sal sien wat jy is: ’n gewone mens wat doodgaan soos enige ander mens.
10 Ja, jy sal doodgaan soos iemand wat weggedryf is uit die geselskap van mense. Vreemde mense wat jy nie ken nie, sal jou doodmaak. Dit is my woord oor jou. Ek is die Here, die God van Esegiël.”
11 Toe praat die Here verder met my. Hy sê:
12 “Mens, huil oor die koning van Tirus asof hy doodgegaan het. Gaan sê vir hom die Here, jou God, sê oor hom: Jy was volmaak. Jy was so slim. En jy was so mooi.
13 Jy het in die tuin van Eden gebly. Dit was die tuin waar God by mense gaan kuier het. Jou klere was die mooiste en die beste wat ’n mens kan kry. Jy het die duurste edelstene gedra. Jy was skatryk. Hulle het vir jou al hierdie skatte gegee die dag toe jy geskep is.
14 Ek het jou daardie dag aangestel om die leier van my boodskappers in die hemel te wees. Jy moes hulle saam met My oppas. Jy kon enige tyd na My toe kom, niemand het jou gekeer nie. Ja, jy het rondgeloop waar Ek was, en waar alles skoon was.