11 “Op die dae wat julle feesvier, moet julle sestien kilogram meel saam met ’n bul en ’n ram offer. Dan kan julle soveel meel vir die offer gee as wat julle wil as julle lammetjies as offers bring. En vir elke sestien kilogram meel wat geoffer word, moet daar vier liter olyfolie gebring word.
12 Wanneer die regeerder vrywillig op ander tye ’n offer wil bring, moet die mense wat in my huis werk, die ingang aan die oostekant vir hom oopsluit. Dan moet hy dieselfde doen as wat hy op die sewende dag of dae wat julle feesvier, doen. As hy klaar is, moet hy weer by die ingang aan die oostekant uitgaan. Die mense wat daar werk, moet dan die ingang sluit.
13 “Elke môre moet julle ’n jaaroud ram voor My op die altaar verbrand. Die dier mag nie gebreklik wees nie. Julle mag nie een môre oorslaan nie.
14 Julle moet ook elke môre drie kilogram meel offer, saam met een en ’n derde liter olie om die meel mee klam te maak. Julle mag nie een môre oorslaan nie.
15 Julle moet elke môre die lam en die meel en die olie bring om op die altaar te offer.”
16 So sê die Here, die God van Esegiël: “Wanneer die regeerder ’n stuk van sy grond aan een van sy seuns gee, word dit die seun se eiendom. As die seun doodgaan, moet sy kinders dit erf.
17 Maar wanneer die regeerder ’n stuk van sy grond vir iemand gee wat vir hom werk, is dit anders. Hierdie persoon kry die grond tot die jaar wat Ek bepaal het dat alle mense se skuld afgeskryf word. Daardie jaar word die grond weer die eiendom van die regeerder se familie. As die koning doodgaan, erf sy kinders daardie grond.