17 Maar wanneer die regeerder ’n stuk van sy grond vir iemand gee wat vir hom werk, is dit anders. Hierdie persoon kry die grond tot die jaar wat Ek bepaal het dat alle mense se skuld afgeskryf word. Daardie jaar word die grond weer die eiendom van die regeerder se familie. As die koning doodgaan, erf sy kinders daardie grond.
18 Die regeerder mag nie sy posisie misbruik en sommerso grond van sy volk afvat nie. ’n Mens se grond is die besitting van sy kinders ná sy dood. Ek wil nie hê dat my volk hulle grond moet verloor en dat hulle moet rondval om te probeer oorleef nie.”
19 Die man wat die meetwerk in die huis van die Here moes doen, bring my toe by die ingang aan die noordekant. Dit is die ingang na die vertrekke waar die mense bly wat in die Here se diens is. Aan die westekant van hierdie kamers was daar ’n plek agter die gebou.
20 Die man sê toe vir my: “Hier is die plek waar die priesters die vleis moet gaarmaak van die offers wat die mense bring. Hier moet hulle ook die meel gaarmaak saam met die olie. Hulle moet dit hier eenkant doen sodat hulle nie die offers naby die volk bring nie, want mense kan doodgaan as hulle met die offers in aanraking kom omdat die offers aan die Here behoort.”
21 Daarna bring die man my toe na die buitekant van die huis van die Here, in die voorhof. Hy vat my toe by die vier hoeke van die voorhof verby. In elke hoek van die voorhof was daar ’n kleiner voorhof.
22 Hierdie kleiner voorhowe was elkeen twintig meter lank en vyftien meter breed. Daar het rook by hulle uitgekom.
23 Daar was ’n muur om elkeen van die voorhowe. Aan die binnekant van die kleiner voorhowe was daar plekke gebou waarop ’n mens kon vuur maak.