4 want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.
5 Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.
6 HIERDIE dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ’n derde nie.
7 Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?
8 Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!
9 Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel; want ons het ’n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense.
10 Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus. Ons is swak, maar julle sterk. Julle is in aansien, maar ons in oneer.