7 Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders.
8 Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek;
9 maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.
10 En aan die getroudes beveel ek — nie ek nie, maar die Here — dat die vrou nie van die man moet skei nie;
11 en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie.
12 Maar vir die ander sê ek — nie die Here nie — as enige broeder ’n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie;
13 en as ’n vrou ’n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie.