6 WANT ek word alreeds as ’n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby.
7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.
8 Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.
9 Beywer jou om gou na my te kom.
10 Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en het na Thessaloníka vertrek, Crescens na Galásië, Titus na Dalmásië.
11 Lukas is alleen by my. Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees.
12 Tíchikus het ek na Éfese gestuur.