15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.
16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.
17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God —
18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
19 en vir my, sodat ’n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak,
20 waarvoor ek ’n gesant is in kettings, sodat ek daarin vrymoediglik mag spreek soos ek moet spreek.
21 EN dat julle ook my omstandighede kan ken, hoe dit met my gaan, alles sal Tíchikus, die geliefde broeder en getroue dienaar in die Here, julle bekend maak.