21 Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie?
22 Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye.
23 Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte.
24 Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar — dit is Hagar;
25 want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny.
26 Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.
27 Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ’n man het.