2 En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis
3 en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet.
4 En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê:
5 Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in ’n verrukking van sinne het ek ’n gesig gesien: ’n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos ’n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom.
6 En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel.
7 En ek hoor ’n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet!
8 Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie.