21 En van toe af het hulle ’n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, ’n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank.
22 En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, ’n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.
23 Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek,
24 nadat Johannes voor sy koms eers die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het.
25 En toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: Wie dink julle is ek? Ek is dit nie; maar kyk, Hy kom ná my, wie se skoen ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie.
26 Broeders, kinders van die geslag van Abraham, en die onder julle wat God vrees, vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur.
27 Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke sabbat gelees word.