1 EN hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was ’n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van ’n gelowige Joodse vrou, maar van ’n Griekse vader.
2 Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium.
3 Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader ’n Griek was.
4 En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou.
5 En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.
6 En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig.
7 En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie.