11 Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis,
12 en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, ’n kolonie. En ons het in hierdie stad ’n paar dae deurgebring.
13 En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ’n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het.
14 En ’n vrou met die naam van Lídia, ’n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ’n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.
15 En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing.
16 En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ’n slavin met ’n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het.
17 Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.