1 TOE het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ’n sinagoge van die Jode was.
2 En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte
3 en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.
4 En sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook ’n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ’n groot aantal van die aansienlikste vroue.
5 Maar die ongelowige Jode was afgunstig en het slegte manne van die leeglopers saamgeneem en die stad in opskudding gebring deur ’n volksoploop te bewerk. En hulle het die huis van Jason aangeval en probeer om hulle voor die volk te bring.
6 Maar toe hulle hul nie kry nie, het hulle Jason en ’n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom,
7 en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus.