8 En hulle het die skare in opskudding gebring en ook die stadsowerhede wat dit gehoor het.
9 Maar toe hulle van Jason en die ander genoegsame waarborg ontvang het, het hulle hul losgelaat.
10 Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.
11 En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.
12 Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ’n groot aantal, vroue en manne.
13 Maar toe die Jode van Thessaloníka verneem het dat die woord van God ook in Beréa deur Paulus verkondig was, het hulle gekom en die skare ook daar opgesweep.
14 Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly.