21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
22 Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ’n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet —
23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;
24 Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.
25 Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie.
26 Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop.
27 Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie.