11 EN ná drie maande het ons afgevaar in ’n skip van Alexandríë met die skeepsmerk Castor en Pollux, wat op die eiland oorwinter het.
12 En ons het by Sirakúse gekom en daar drie dae gebly.
13 Daarvandaan het ons omgeseil en by Régium aangekom en een dag later het die suidewind opgekom, en op die tweede het ons Putéoli bereik,
14 waar ons broeders gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly; en so het ons na Rome gegaan.
15 En die broeders wat van ons lotgevalle gehoor het, het ons daarvandaan tegemoetgekom tot by die Áppius-mark en die Drie Herberge; en toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed gevat.
16 En nadat ons in Rome gekom het, het die hoofman oor honderd die gevangenes oorgelewer aan die bevelhebber van die leër. Maar aan Paulus is dit vergun om op sy eie te woon met die soldaat wat hom moes oppas.
17 En ná drie dae het Paulus die vernaamste Jode saamgeroep en, nadat hulle vergader het, vir hulle gesê: Broeders, alhoewel ek niks gedoen het teen die volk of die voorvaderlike sedes nie, is ek uit Jerusalem as gevangene oorgelewer in die hande van die Romeine.