10 en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis.
11 En ’n hongersnood en groot benoudheid het oor die hele Egipteland en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen voedsel kry nie.
12 En toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders die eerste keer uitgestuur.
13 En die tweede keer is Josef deur sy broers herken, en die afkoms van Josef het aan Farao bekend geword.
14 Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf-en-sewentig siele.
15 En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders.
16 En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir ’n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem.