32 Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie.
33 Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.
34 Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.
35 Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as ’n owerste en regter? — hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos.
36 Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank.
37 Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle ’n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister.
38 Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.