40 toe hulle vir Aäron gesê het: Maak vir ons gode wat voor ons uit sal trek; want hierdie Moses wat ons uit Egipteland uitgelei het, ons weet nie wat van hom geword het nie.
41 En hulle het in daardie dae ’n kalf gemaak en aan die afgodsbeeld ’n offer gebring en hulle in die werke van hulle hande verbly.
42 Maar God het Hom afgewend en hulle oorgegee om die leër van die hemel te dien, soos geskrywe is in die boek van die profete: Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel?
43 Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer.
44 Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die woestyn, soos Hy wat met Moses gespreek het, hom bevel gegee het om dit te maak volgens die afbeelding wat hy gesien het.
45 En ons vaders het dit ontvang en met Josua ingebring in die besitting van die nasies wat God voor ons vaders uitgedryf het, tot op die dae van Dawid
46 wat genade gevind het voor God en gevra het om ’n woonplek vir die God van Jakob te verkry.