12 Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.
13 Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.
14 Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.
15 Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.
16 Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers.
17 Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.
18 Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons ’n goeie gewete het, omdat ons in alles goed wil wandel.