1 DAAROM, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus,
2 wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis.
3 Want Hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses, namate hy wat die huis gebou het, meer eer het as die huis;
4 want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.
5 En Moses was wel getrou in sy hele huis as ’n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word,
6 maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.