20 En vir sover dit nie sonder eedswering was nie — want húlle het sonder eedswering priesters geword,
21 maar Hy met eedswering deur die Een wat aan Hom gesê het: Die Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek —
22 in sover het Jesus van ’n beter verbond borg geword.
23 En hulle het wel priesters geword in ’n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly;
24 maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ’n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie.
25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.
26 Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het;