3 Want elke hoëpriester word aangestel om gawes en offers te bring. Daarom moes Hy ook iets hê om te offer.
4 Want as Hy op aarde was, sou Hy selfs geen priester wees nie, omdat daar priesters is wat volgens die wet die gawes offer,
5 hulle wat ’n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien, soos Moses ’n goddelike bevel ontvang het toe hy die tabernakel sou voltooi; want Hy het gesê: Kyk dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat jou op die berg getoon is.
6 Maar nou het Hy ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.
7 Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ’n tweede gesoek word nie.
8 Want Hy berispe hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond tot stand sal bring,
9 nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here.