1 NADAT Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor die spruit Kedron gegaan waar daar ’n tuin was, waarin Hy self gegaan het en sy dissipels.
2 En Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus daar dikwels met sy dissipels saamgekom het.
3 En Judas het die afdeling soldate en die dienaars van die owerpriesters en die Fariseërs geneem en daar gekom met fakkels en lampe en wapens.
4 En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle?
5 Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasaréner. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En ook Judas, sy verraaier, het by hulle gestaan.