33 Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode?
34 Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê?
35 Pilatus antwoord: Is ek dan ’n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?
36 Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.
37 Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ’n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.
38 Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.
39 Maar julle het ’n gewoonte dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat; wil julle dan hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?