13 En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en op die regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, en in Hebreeus Gábbata.
14 En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy vir die Jode: Dáár is julle Koning!
15 Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie.
16 Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei.
17 EN Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota,
18 waar hulle Hom gekruisig het en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, en Jesus in die middel.
19 En Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit op die kruis gesit; en daar was geskrywe: JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE.