28 As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!
29 Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;
30 want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.
31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
32 Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.
33 Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ’n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.
34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.