20 En hulle het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op ’n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur.
21 En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer —
22 is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?
23 Maar Hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My?
24 Wys My ’n penning. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s’n.
25 Toe sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.
26 En hulle kon Hom nie voor die volk op ’n woord betrap nie, en verwonderd oor sy antwoord het hulle geswyg.