54 EN hulle het Hom gevange geneem en weggelei en Hom gebring in die huis van die hoëpriester. En Petrus het van ver af gevolg.
55 En toe hulle ’n vuur in die middel van die binneplaas van die paleis gemaak en bymekaar gaan sit het, het Petrus onder hulle gesit.
56 En ’n diensmeisie het hom daar by die vuur sien sit; en nadat sy hom vas aangekyk het, sê sy: Hierdie man was ook saam met Hom.
57 Maar hy het Hom verloën en gesê: Vrou, ek ken Hom nie.
58 En kort daarna sien iemand anders hom en sê: Jy is ook een van hulle. Maar Petrus sê: Man, ek is nie.
59 En ná verloop van omtrent een uur het ’n ander een dit verseker en gesê: Sowaar, hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook ’n Galiléër.
60 Maar Petrus antwoord: Man, ek weet nie wat jy sê nie. En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het die haan gekraai.