8 Want ek is ook ’n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ’n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.
9 Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ’n groot geloof nie gevind nie.
10 En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond.
11 EN die dag daarna was Hy op weg na ’n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en ’n groot menigte het saam met Hom gegaan.
12 En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ’n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ’n weduwee; en ’n groot menigte van die stad was by haar.
13 En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie!
14 En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op!