12 Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.
13 En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ’n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.
14 En wat in die dorings geval het — dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.
15 En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ’n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.
16 EN niemand steek ’n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder ’n bed nie; maar hy sit dit op ’n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien.
17 Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.
18 Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.