25 En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!
26 EN hulle het geseil na die land van die Gadaréners, wat reg anderkant Galiléa is.
27 En toe Hy aan wal uitklim, kom ’n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir ’n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in ’n huis gewoon nie, maar in die grafte.
28 En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met ’n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U, moet my nie pynig nie —
29 want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want baiekeer het hy hom saamgesleep; en hulle het hom gebind met kettings en voetboeie om oor hom wag te hou; maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en die duiwel het hom in die woestyne gedrywe.
30 Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio — want baie duiwels het in hom ingevaar.
31 En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie.