35 En daar kom ’n stem uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na Hom!
36 En nadat die stem gekom het, was Jesus daar alleen. En hulle het geswyg en aan niemand in daardie dae iets vertel van wat hulle gesien het nie.
37 EN op die volgende dag toe hulle van die berg afklim, kom ’n groot skare Hom tegemoet.
38 En daar roep ’n man uit die skare en sê: Meester, ek bid U, kyk tog na my seun, want hy is my enigste.
39 En kyk, ’n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom.
40 En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie.
41 Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.